Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 5

22-11-2016 06:37
 
 
 
DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS
NGB Art 5. 

 

DIE BYBEL DIE BOEK VIR DIE HELE LEWE   ART 5 NGB

 

Die Bybel die belangrikste boek vir ons hele lewe

 

Wie werklik gereformeerd wil wees, moet  sy  gedagtes  in die eerste plek aan die Bybel toets. As ons dit doen sal ons ook na die gereformeerde belydenis kyk. Ons is aan die gereformeerde belydenis gebind behalwe  wanneer  ons  kan bewys dat die belydenis in stryd  met God se Woord,  met die Bybel is. Wanneer ons oortuig is  dat  'n  deel van die Drie Formuliere van Eenheid:  die Nederlandse Geloofsbelydenis,  die Heidelbergse Kategismus en die  Dordtse  Leerreëls,   in stryd met die Bybel  is,  moet ons die belydenis verander. ‘n Afrikaanse teoloog wat baie invloed gehad het en ook na sy afsterwe deur sy boeke en artikels baie invloed uitoefen is Ferdinand Deist.  Hy het gesê  dat  hy 'n voluit gereformeerde teoloog is.  Daarom probeer  hy  om  sy gedagtes oor die Skrif teenoor die gereformeerde belydenis te regverdig. Hy het beweer dat dit wat hy oor die Heilige  Skrif leer in ooreenstemming met die gereformeerde belydenis is. .

 

Bybel en geloof

 

Deist  verantwoord  hom in sy boek:  "Kan ons die Bybel dan  nog  glo?" deur juis op  artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis te wys. Artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis lui:  "Ons aanvaar al hierdie boeke, (die 66 Bybelboeke R.V) en  hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook  sonder  twyfel  alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God  is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind." Deist erken die Bybel egter nie as die onfeilbare Woord van God  nie.  Die Bybel is  volgens  hom 'n menslike boek met foute waarvan God gebruik maak.  Hoe  kan  'n  boek vol foute nou 'n boek wees waarvolgens ons ons geloof moet rig,  grondves en bevestig? Hoe kan die Bybel dan nog die norm vir ons lewe wees? Deist wys dan op een woord in die eerste sin van artikel 5 en sê dan dat die Bybel net vir 'n bepaalde deel van ons lewe gesag het.  Ons lees dit in Deist se boek op bladsy 47. Ek  haal  die  helfte van pag 47 aan sodat jy kan lees hoe Deist met artikel 5 omgaan. Daarna gaan ons dit aan die Skrif self  toets. Hy skryf:

"In die eerste plek word hier bely dat ons die Bybel beskou as  die  enigste  maatstaf waaraan ons ons geloofsuitsprake  kan  toets  en  waarop  ons  dit kan grond.  Dit wil sê die opstellers  het nie maar sommer so in die algemeen bely dat  die Bybel 'n betroubare boek is nie.  Hulle het gesê dit is  'n betroubare geloofsmaatstaf. Dit blyk ook uit hulle laaste argument oor waarom ons hierdie belydenis uitspreek,  as  hulle sê dat die dinge wat in die Bybel voorspel is, plaasgevind het.    Hoogs   waarskynlik  het  hulle  hier  die  Christusgebeure in gedagte gehad:  dit wat omtrent Christus  in die Ou Testament voorspel is,  het toe later,  soos blyk  uit die Nuwe Testament, so gebeur. Dit wil dan sê dat hulle  'n lyn deur die Bybelse boeke sien loop,  'n lyn waarop ons  ons geloof begrond en waaraan ons ons geloof toets. 'n Mens sou  dus hierdie belydenis soos volg kon parafraseer:  "Ons  beskou  die  Bybel  as  'n  betroubare maatstaf vir ons geloofslewe  en  geloofsuitsprake rakende die verlossingsplan  van God in Christus."

Wanneer  'n  mens mooi lees sien jy dat Deist die belang en gesag  van die Bybel al hoe meer beperk.  Die eerste wat hy  sê  is  dat die Bybel net 'n betroubare geloofsmaatstaf is.  Hy  verdeel   die  lewe in die deel van die geloof en 'n  ander  deel   wat buite die geloof staan.  As ‘n mens dan weer verder  lees  sien ons dat die gesag van die Bybel nog meer beperk  word.   Die  Bybel  is  volgens  Deist  geen betroubare  maatstaf  vir  die hele terrein van die geloof nie. Hy skryf in die  laaste  sin  wat  ons  aangehaal het  dat die Bybel 'n  betroubare maatstaf vir ons geloofslewe en geloofsuitsprake  rakende  die  verlossingsplan van God in Christus is.  Eers  beperk  Deist  die  gesag van die Bybel tot die terrein van  die  geloof  en dan beperk hy dit binne die terrein van die  geloof  tot dit  wat  die  Bybel  oor die verlossing in en deur Christus sê. Is dit nou wat ons belydenis bedoel? Ons moet, om dit te kan raaksien,  terug na die Bybel.  Verdeel die HERE die lewe in  'n  terrein  van  die geloof en 'n ander deel wat buite die geloof, buite die omgang met die HERE staan? Beperk die HERE  self  die  gesag  van  die  Bybel tot dit wat die Bybel van Christus en die verlossing deur Hom sê?

 

Mag die lewe gedeel wees?

 

As 'n mens sê dat die Bybel net beslissend is vir geloofsuitsprake, moet 'n mens tot die  gevolgtrekking kom dat die HERE vir 'n deel  van ons lewe nie die belangrikste is nie. Hierdie gevolgtrekking is in stryd met wat die HERE self in die Bybel sê.  Ek gee daarvan 'n enkele voorbeeld.  Ons kyk eers na dit wat ons aan die einde van die boek Prediker lees.  Ons lees in Prediker 12:13,14: "Die hoofsaak van alles wat gehoor is,  is:  Vrees God en hou sy gebooie;  want dit  geld  vir alle mense.  Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg." Elke werk,  die hele lewe het met die HERE te doen. Geloof,  vertroue  op die HERE,  dat 'n mens na Christus luister, het  betekenis  vir  elke oomblik van 'n mense se lewe.  Ons mag  geen enkele ding in ons lewe van die lewe met Christus, van  die geloof, losmaak nie. Wat  ons  in Prediker 12 gelees het, lees ons o.a. ook in 2 Korinthiërs 5: 9,10 en Openbaring 20:12. 2  Korinthiërs  5:  9,10:  "Daarom lê ons ons ook ywerig daarop  toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees.  Want  ons  moet  almal  voor  die  regterstoel van Christus  verskyn,   sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam   verrig  het,  volgens wat hy gedoen het,  of dit goed is of  kwaad." Openbaring  20:  12:  "En ek het die dode,  klein en groot, voor  God sien staan,  en die boeke is geopen;  en 'n ander  boek,   die  boek van die lewe,  is geopen.  En die dode is  geoordeel  na  wat  in die boeke geskryf is,  volgens hulle werke." Die  HERE  beoordeel  nie net 'n deel van ons lewe nie.  Hy beoordeel  ons hele lewe.  Hy het ons Sy Woord,  die Bybel,  gegee  vir  die  hele  lewe.  Die  Bybel is nie net 'n geloofsboek nie, maar dit is die lewensboek. Die Bybel is die  boek waarin die HERE ons die pad vir die hele lewe wys. Die lewe  wat  op  geen  enkele  terrein  van  die geloof,  van  Christus  losgemaak mag word nie.

 

Die Bybel is die lewensboek

 

Die  Bybel is nie net 'n geloofsboek nie, maar dit is die lewensboek. Die Bybel is die  boek waarin die HERE ons die pad vir die hele lewe wys. Die lewe  wat  op  geen  enkele  terrein  van  die geloof,  van  Christus  losgemaak mag word nie.  Dat die Bybel nie net 'n  betroubare  maatstaf ten aansien van God se verlossingsplan  in Christus is nie, bewys die Bybel self. Ek wys nou op een gedeelte in die Bybel wat dit baie duidelik sê.  Ons lees daar  dat  die Bybel vir alles in die lewe van die grootste belang is.  Ek  dink  aan 2 Timotheus 3:16,  17: "Die hele Skrif is deur  God ingegee en is nuttig tot lering,  tot weerlegging,  tot  teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die  mens van God volkome kan wees,  vir elke goeie werk volkome  toegerus." Dit gaan daarom dat jy vir jou hele lewe leer om soos ‘n mens van God te leef. Om in alles in jou lewe God se beeld op aarde te vertoon. Om weer werklik mens te wees. Die  Bybel  is beslissend en nuttig vir die hele lewe.  Die Bybel  is  ook 'n baie praktiese boek.  Wanneer ons net aan  die  boek  Spreuke dink,  aan al die dinge wat Christus van  die  gewone  lewe sê.  Wanneer ons dink aan al die konkrete  voorskrifte wat die apostels in hulle briewe gee,  sien ons dat  die  Bybel  vir  die  hele lewe beslissend is.  God se  verlossingsplan  in Christus het groot gevolge vir die hele  lewe,   die  HERE  vra van ons dat ons aan die Woord van Koning   Christus in ons hele lewe gehoorsaam sal wees.

Ons mag Christus en Sy Woord buite geen enkele deel van ons  lewe hou nie.  As ons dit nogtans doen,  is ons besig om twee here te dien.  Wat sê die Verlosser daarvan?  Dit:  "Niemand kan  twee  here  dien  nie;   want of hy sal die een haat en die  ander liefhê, of hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie!" (Mat 6:24)

Dit  is  duidelik  dat die Bybel die geloof nie tot 'n deel van  die lewe beperk nie.  Die geloof,  die kennis van God,  die  omgang  met  Christus moet die hele lewe beheers.  Die Woord  van  God  moet orals en altyd in ons lewe gehoorsaam word.  As die HERE in Sy Woord so praat kan dit ook nie so wees dat die Belydenisskrifte,  wat God se Woord wil naspreek, die geloof beperk net tot ‘n sekere deel van ons lewe nie.

 

Het die Bybel net Christus se koms en werk voorspel?

 

Die laaste sin van artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis  word deur Ferdinand Deist in sy boek “Kan ons die Bybel nog glo” op 'n snaakse manier uitgelê.  Ons  bely  dat  die Bybel self getuig dat die Bybel God se Woord  is.  Dit word in ons belydenis so onder woorde gebring: "en omdat hulle (die 66 Bybelboeke R.V) ook die bewys daarvan in hulleself het,  aangesien die blindes self kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind." Deist  skryf dan dat die Belydenis hier dalk aan die Christusgebeure gedink het.  Die Nederlandse Geloofsbelydenis sou hier aan die dinge wat in die Ou Testament oor Christus voorspel is en in die Nuwe Testament gebeur het dink. Niks in artikel 5  wys egter hierop nie.  Hier bely ons juis baie algemeen..  Die Ou-Testament profeteer nie net van Christus nie. Die profete wys ook op ander dinge wat in die toekoms gaan gebeur. Een van die baie voorbeelde is dat die HERE in 1 Kon 13 profeteer dat die altaar in Betel baie jare later deur koning Josia vernietig sal word. Kyk 1 Kon 13:2. Ook hierdie profesieë word vervul. Kyk vir die voorbeeld van 1 Kon 13:2: 2 en 23:15,16.  Twee ander voorbeelde is:

1.   Abram  hoor  van die HERE dat die volk wat uit hom sal  voortkom  die  land Kanaan in besit sal neem,  maar voordat dit  sal  gebeur  sal  hierdie volk  400 jaar in 'n ander land as vreemdelinge moet bly.  Ons lees dit in Genesis 15:13:  "Daarop sê Hy vir Abram:  Weet verseker dat jou   nageslag  vreemdelinge  sal  wees in die land wat aan hulle  nie  behoort nie;  daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word 400 jaar lank." Dit het in Egipte gebeur en daarna het  Israel uit Egipte uitgetrek en Kanaan in besit geneem.  Dit  het die HERE in Genesis 15:14 profeteer.

2.   Die  HERE  het  die  ballingskap  van  Israel na Babel  voorspel en ook die terugkeer van 'n deel van die volk.  Hy  het  selfs  profeteer  watter  koning   sal sorg dat  Israel weer na Kanaan sal terugkeer. Die HERE sorg daarvoor  dat dit wat Hy van die toekoms sê, gebeur. Nog voordat Juda in  ballingskap was en voordat Kores gebore was sê die HERE  deur  Sy profeet Jesaja:  "wat die woord van Sy kneg vervul en  die  voorsegging van Sy booddskappers volbring;  wat van  Jerusalem  sê:  Dit moet bewoon word;  en van die stede van  Juda:  Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig;  wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat   verdroog;   wat  van Kores sê:  Hy is my herder,  en hy sal  volbring  wat  My  behaag deurdat hy van Jerusalem sê:  Dit  moet gebou word,  en die tempel moet gegrond word." (Jesaja 44:26-28)

Daar  is baie meer profesieë in die Ou-Testament as net  die wat van Christus praat. Die Belydenis wys in art 5 van die NGB op al God  se  profesieë!  Die Belydenis praat in die algemeen en dan  is  dit niks anders as subjektivisme en willekeur wanneer 'n mens sê dat artikel 5 net op die Christusgebeure  dui.   Deist doen dit omdat hy die gesag van die Bybel tot  'n sekere gebied van die lewe wil beperk en wil bewys dat die gereformeerde  Belydenisskrifte sy siening staaf.  Wanneer iemand  die Bybel iets anders wil laat sê as wat die Bybel sê  moet hy ook die gereformeerde Belydenis ander dinge laat sê as wat daar bely word. Laat ons gewaarsku wees.