Nederlandse geloofsbelydenis artikel 18 God se Seun het mens geword

21-02-2017 07:25

 

God se Seun het mens geword

Artikel 18: Nederlandse Geloofsbelydenis

 

In verband met die Kersfees skryf ek, soos die Here wil, hierdie en volgende keer oor die menswording van die Seun wat ons ook in artikel 18 van die NGB bely. Daarna hoop ek om weer  verder oor artikel 14 te skryf.

Ons vier hierdie maand Kersfees.  Ons sê vir mekaar dat die Seun van God mens geword het.  Ons hoor in die kerk dat dit die heerlike evangelie is dat die Woord vlees geword het.   Wanneer  ons oor Jesus se geboorte praat hoor ons dikwels die woord vernedering.  Wat bedoel ons wanneer ons die woord  vernedering in verband met Christus se geboorte gebruik?

 

Is menswording vernedering?

 

Die  Here Jesus word in Betlehem gebore. Die Seun van God word mens.  Dit is nie so dat die Seun van God toe ontstaan het nie.  God se Seun is ewig, sonder begin en sonder einde. Wanneer Hy mens word is dit nie so dat Hy verander nie. Die Seun  van  God  het nie verander in 'n mens nie.  Hy wat God is word dan ook mens. Vanaf daardie oomblik is Hy God en mens.

 

Was  dit  nou  vernedering vir die Seun van God dat Hy mens geword  het?    Hierop  moet  ons  antwoord  wees  dat  Sy menswording  in Betlehem vernedering was, maar ons kan nie sê dat dit vir Christus vernedering was dat Hy ook mens geword het nie.

 

Hoekom was die menswording op sigself geen vernedering vir God se Seun nie?

 

1.   Omdat Hy God gebly het en ook mens geword het.  Dit is nie so dat Sy Godheid deur Sy mensheid noodwendig  beperk word nie.  Dit is nie so dat die Seun minder God geword het toe Hy mens geword het nie. Dat  dit nie noodwendig so is dat Christus se menswees Hom beperkings oplê nie – só bely ons o.a. in Sondag 18 van die Heidelbergse Kategismus.  Sondag 18 bespreek die verband tussen Christus se God- en menswees en Sy hemelvaart. In vraag en antwoord 47 is dit duidelik dat Christus as mens in die hemel is en nie op aarde nie. Nogtans is Christus tog by ons op aarde, want as God is Hy by ons.  Wanneer dit gesê is, volg in vraag en antwoord 48:

"Maar as die mensheid nie orals is waar die Godheid is nie, word die twee nature van Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Nee,  glad nie.  Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is oral teenwoordig. Hieruit moet volg dat die Godheid  wel  buite  sy aangenome mensheid  is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly."

Ek weet dat dit nogal ingewikkeld klink. Nogtans is dit nie 'n ingewikkelde of moelike ding waaroor hier gepraat word nie. Die Seun het mens geword, maar dit beteken nie dat Hy as God in die mens Jesus opgesluit is nie. Die mens Jesus         is  nie die gevangenis vir die Seun nie.  Hy is op 'n besondere  manier met die mens Jesus verenig,  Hy vorm selfs een  Persoon met Hom en nogtans is Hy as God ook buite die mens Jesus. Hy bly alomteenwoordig.

 

2.   Die tweede rede waarom die menswording op sigself geen vernedering  vir die Seun van God was nie is dat God die mens goed en na Sy beeld gemaak het. Menswees opsigself is nie iets sleg nie.

 

3.   Die  laatste  wat  ek  hier wil noem is dat Hy ook ná Sy opstanding mens bly.  Ook in die hemel bly Christus mens.   Selfs op die nuwe aarde hou Hy nie op om mens te wees  nie. Christus is as die Verlosser - wat mens moes wees -  die Lam van God. Die Lam van God is nou in die hemel. Die Heilige Gees wys ons in Openbaring 5 daarop dat die Lam van God in die hemel is. In vers 5,6 word Hy duidelik as mens geteken. Sy afkoms en Sy lyding word daar beklemtoon. Ons lees daar:  "Toe sê een van die ouderlinge vir my:  "Moenie ween nie;  kyk, die Leeu  wat  uit die stam van juda is,  die wortel van Dawid,  het  oorwin  om  die  boek  oop te maak en sy sewe seëls te  verbreek.  En ek het gesien,  en kyk, in die middel van die  troon  en  die  vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge  staan  daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde."

Christus sal  - as mens -  as die Lam van God - ook op die nuwe aarde  wees.   Die Here Jesus het dit self vir Sy dissipels in  Mat 26 gesê:  "Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader." (vers 29). Dat die Verlosser,  die Lam van God ook op die nuwe hemel en aarde sal wees, lees ons o.a. ook in Open 21:23 en 22:1,3. In Openbaring 21 lees ons van die Nuwe Jerusalem:  "En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp." In Openbaring 22 lees ons in vers 1,3:  "En hy het my getoon 'n suiwer rivier van die water van die lewe,  helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.  .....  En daar sal geen enkele  vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van  die  Lam  sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom

dien." Jesus Christus is ook as mens in die hemel en op die nuwe hemel en aarde.  Dit maak duidelik dat Sy menswees geen vernedering vir Hom is nie.  Dit tas nie Sy heerlikheid en majesteit aan nie.  Wanneer ons dit gesê het moet ons terug na Betlehem, want tog was dit vir God se Seun ‘n stuk vernedering dat Hy op 'n bepaalde manier mens geword het.

 

Die Seun van God het 'n swak mens geword

 

Christus word op 'n bepaalde tyd mens. Dit is in die tyd ná die sondeval.  Die doel en motief van Sy menswording is die redding van sondaars, die versoening van sondes vir die gelowiges.  Die lees ons o.a. in 1 Johannes 4:9,10: "Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar,  dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het,  sodat ons deur Hom kan lewe.  Hierin is die liefde:  nie dat ons God liefgehad het  nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het  as  'n  versoening vir ons sondes." Dat die verlossing van sondes die doel van Christus se menswording is, vertel die HERE vir Josef in Mattheus 1:21:  "en Maria sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van  hulle  sondes  sal verlos."  Ander tekste waar ons dit kan lees is o.a:  Mat 20:28; Luk 19:10; Rom 8:3; Gal 4;4,5; 1 Tim 1:15 en Hebr 2:17.

 

Die Seun van God het mens geword om ons te verlos.  Hy  moes mens word om as mens in ons plek te ly.  Omdat Hy ná  die sondeval mens geword het, het dit ook beteken dat Hy 'n mens geword het soos Adam na die sondeval.  Hy het 'n mens geword wat deur die gevolge van die sonde aangetas is.  Christus het nie in só 'n liggaam in die wereld in gekom soos Adam en Eva voor die sondeval gehad het nie. Die Here Jesus het 'n liggaam gehad wat vir siektes vatbaar was. Dit  profeteer  Jesaja al in hoofstuk 53:  "Hy was verag en deur die  mense  verlaat,  'n  man van smarte en bekend met krankheid;  ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie." Jesus se liggaam is geen liggaam wat Sy Godheid uitstraal nie. Jesus is nie die supermens wat geen verdriet ken nie,  wat nie moeg word nie, wat geen angs ken nie. Al hierdie dinge wat by 'n swak  mens hoort, het Jesus geken.  Hy moes in sy menswees die straf dra wat die mens verdien het en daarby behoort ook dat Hy die gevolge van die sonde by en in Homself gevoel het.  Dit was vir die Seun van God ’n vernedering. Hierin sien ons hoe "Hy Homself ontledig het deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word." (Fil 2:7).  Hy het nie aan die mens, Adam, gelyk geword soos dit voor die sondeval was  nie. Hy het gelyk geword aan die mense waartussen Hy moes leef en wat Hy moes verlos.

 

God se Seun het mens geword (II)

Artikel 18: Nederlandse Geloofsbelydenis

 

Christus het in sekere omstandighede mens geword

 

Die  Here Jesus kom as 'n swak mens in die wêreld.  Die manier  waarop  Hy  mens is, straal nie in alles Sy Godheid en majesteit uit nie.  Hy kom in 'n omgewing waarin alle ander mense  sondige mense is - waarin mense Hom nie erken as die Seun van God  nie -  waarin mense Hom nie as die beloofde Verlosser volg nie.  Jesus Christus is God, maar Hy word nie só geëer en verheerlik nie. Dit is vir die Seun van God - wat in die hemel Goddelike eer ontvang het - 'n groot vernedering.   Daarvan skryf Paulus in 2 Kor 8:9:  "Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus,  dat Hy,  alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur  sy armoede ryk kan word." Die Seun van God het - om God se  kinders  te verlos - die hemel verlaat.  Hy het die offer gebring  dat Hy nie meer die eer ontvang wat Hy verdien nie, maar in 'n omgewing van sonde,  onbegrip,  ongeloof en vervolging tot die dood toe moet leef.  Dit is vir die Seun van God groot vernedering.

 

Wat doen Christus as mens in die hemel?

 

'n Mens kan dink dat dit vir Christus in die hemel nie meer nodig is om mens te wees nie.  Hy het Sy lyding vir God se kinders volbring.  Nogtans is dit nie so dat Christus geen mens meer is nie.  Hy het met Sy liggaam uit die graf opgestaan.  Hy het as mens na die hemel opgevaar. Hy is nou

as  mens in die hemel aan God se regterhand.  Wat doen Hy daar? Ek wil twee dinge noem.

1.  Hy werk in die hemel vir ons as Hoëpriester.  Hy het as Hoëpriester Sy offer gebring.  In die hemel bid Hy vir die gelowiges. Tree Hy by die Vader vir die gelowiges in.  Hy doen dit op grond van die volmaakte offer wat Hy vir ons sondes gebring het.  Ons lees van hierdie werk van Christus o.a. in Rom 8:34 en Hebr 7:25.

Rom 8:34:  "Wie is dit wat veroordeel?  Christus is dit wat gesterf het,  ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree."

Hebr  7:25:  "Daarom kan Jesus ook volkome red die wat deur Hom  tot  God gaan,  omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.”

2.  Hy  regeer vanuit die hemel die hele skepping.  Sy  koningskap is iets wat God vir Jesus Christus vanweë  Sy gehoorsaamheid as Verlosser, as Middelaar gegee het. Dit lees ons o.a. in Fil 2.  Wanneer Paulus in verse 6-8 oor Christus se menswording geskryf het en aangewys het hoe die Seun van God Hom verneder het, lees ons in vers 9-11:

"Daarom  het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is,  sodat in die Naam van Jesus Christus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,  en elke tong sou bely dat Jesus  Christus die Here is tot heerlikheid van die Vader."

Dit  is duidelik dat Christus ook in die hemel nog mens is. Wat sal Hy op die nuwe aarde as mens doen?

 

Wat doen Christus  as mens op die nuwe aarde?

 

Christus sal  ook in die Nuwe Jerusalem God en mens wees. Hy sit daar saam met God in die troon.  Dit beteken dat die Verlosser saam met God regeer. Die manier waarop Hy regeer het verander,  want wanneer Jesus Christus teruggekom het en die oordeel  uitgespreek  het, sal gebeur wat ons  in 1 Kor 15:28  lees: "En wanneer alles aan Christus onderwerp is, dan sal  ook  die  Seun self Hom onderwerp aan die een wat alles aan  Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees."

Jesus Christus regeer nog op die nuwe aarde maar Hy het die gesag  waarmee  Hy die teenstand teen God en Sy verlossingswerk  moes  bestry  weer aan Sy Vader oorgegee, want elke teenstand  is tot swye gebring. Jesus Christus is  op die nuwe aarde die mens wat herinner aan die verlossing wat die HERE deur Hom gegee het.  Hy hou daardeur die loflied op die HERE as die Verlosser lewendig. Hy hou lewendig die besef dat die gelowiges hulle plek by God op die  nuwe aarde aan God te danke het. Jesus Christus is die bruidegom wat op 'n volmaakte manier met Sy vrou gemeenskap het.  Die kerk van alle tye is die bruid van Christus. (sien 2 Kor 11:2;  Ef 5:27,32;  Openb 21:9) Die kerk, die volk van God sal daar in volmaakte vrede en vreugde met Jesus Christus lewe.  Daar sal al die lidmate van die kerk saam met Christus wyn drink en die bruilofsmaal van die Lam vier.  Hulle sal daar die vreugde ken dat hulle in Hom op 'n volmaakte manier die volmaakte liefde van God sien.

Hoe ryk is dit dat God Sy Seun gestuur het,  dat Hy vir ons mens wou word.  Ons het nog net 'n bietjie daarvan gesien. Dit laat 'n mens al verwonderd oor God se groot dade staan.

 

Dit is vir die gelowiges verlossende rykdom

 

Ons bely in ons artikel met klem dat die Seun volledig mens geword het. Die Here Jesus was en is nie God met ‘n menslike omhulsel nie. Hy is nie God met net ‘n menslike uiterlike, ‘n menslike liggaam, nie. Ons bely dit so: “Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie, maar ook ‘n egte menslike siel om ‘n werklike mens te wees.”

Hoekom het die Seun volledig mens geword? Om God se kinders, om die gelowiges volledig te red! Die Here Jesus is nie ‘n gedeeltelike Verlosser nie. Nee, Hy red God se kinders volledig. Hul hele lewe word deur Hom van die greep van die dood, van die ewige ellende gered. Ons bely dit ook in die volgende sin van art 18: “Want hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om altwee te red, aangesien biede verlore was.”

Die Seun het daarom ook met liggaam en siel die hel ondergaan om jou en my daarvan te verlos. Om vir jou en my te verdien dat ons ook met ‘n nuwe liggaam, ja met ons hele persoonlikheid, op die nuwe aarde by die HERE mag woon. Sonder dat siekte, hartseer, aanvegting ons nog kan tref. So volledig is die verlossing wat Christus verdien het deurdat Hy volledig mens geword het.

‘n Ander Verlosser as die mens Jesus Christus is daar nie as die Seun van God wat vir die gelowiges mens geword het. Hoe dom is jy as jy nie by dié Verlosser jou lewe soek nie. Hoe dom is jy as jy sodoende die dood pleks van die lewe kies. Die Heilige Gees sê vandag ook vir ons wat Hy deur Moses eeue gelede vir God se volk in die woestyn gesê het: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Ies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nagerslag, deur die HERE jou God lief te hê, na Sy stem te luister en Hom aan te hang.” Deut 30: 19,20

Die lewe lê net in die Verlosser Jesus Christus!