Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 10 Jesus Christus was en is God

20-12-2016 07:26

 

 

Jesus Christus was en is God

Artikel 10 - Nederlandse Geloofsbelydenis

 

Iets oor die geskiedenis

 

Ons vind in die geskiedenis van die kerk mense wat die godheid van die Here Jesus ontken. ‘n Belangrike voorbeeld daarvan is Arius. Arius het in die 4 e eeu geleef. Hy was ‘n diaken in die kerk. Daarna het hy ‘n leraar geword. Hy het veral vanweë sy ontkenning dat Jesus Christus werklik God is, bekend geword. Arius het geleer dat die Here Jesus die hoogste skepsel is en verseker nie God nie. Hierdie leer het in die tyd baie invloed gehad. Dit het ‘n groot stryd in die kerk veroorsaak. Die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius is daarvan resultate. Hierin word met klem bely dat die Here Jesus verseker eg en ewig God is. Dink maar net aan die volgende woorde in die Geloofsbelydenis van Nicea: “”in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die vader”.

Die leer van Arius is deur die kerk kragtig veroordeel. Ons vind Arius se leer vandag nog by die Jehova se Getuies. Ek gee nou ‘n aanhaling uit een van die Jehova se getuies se eie boeke om te wys wat hulle van Christus leer:

“Jesus het in die hemel as ‘n geespersoon gelewe voordat hy aarde toe gekom het. Hy was God se eerste skeppingswerk, en daarom word hy die ‘eersgebore’ Seun van God genoem (Kolossense 1:15; Openbaring 3:14). Jesus is die enigste Seun wat deur God self geskep is. Jehovah het die voormenslike Jesus as sy “meesterwerker” gebruik om alle ander dinge in die hemel en op die aarde te skep (Spreuke 8:22-31. Kolossense 1:16,17). God het hom as Sy hoofwoordvoerder gebruik. Dit is waarom Jesus “die Woord” genoem word. – Johannes 1;1-3; Openb 19:13.

Jesus het gesterf en is deur God as ‘n geesskepsel opgewek, en hy het na die hemel toe teruggekeer (1 Petrus 3;18). Sedertdien het God hom ‘n Koning gemaak. Jesus gaan binnekort alle goddeloosheid en lyding van hierdie aarde verwyder. – Psalm 37:9-11; Spreuke 2:21,22)”

 

Rasionalisme

 

Toe die kerk deur Christus die krag en die wysheid gekry het om die leer van Arius te verwerp, het Christus Sy kerk teen die gevaar van rasionalisme bewaar. Rasionalisme beteken dat ons verstand (latyn: ratio) die norm word vir dit wat ons kan glo en wat ons nie kan glo. Arius se belangrikste argument om te verwerp dat Christus, dat die Seun God was en is, was dat ‘n vader altyd eerder as ‘n seun bestaan. As Christus die Seun genoem word kan Hy, volgens Arius en sy aanhangers, nooit soos die Vader God wees nie. Die Vader is volgens hom dan ook die enigste wat werklik God is. Wat sien ons hier gebeur? Dit wat ons op aarde, in die skepping sien gebeur, word vir ons die norm. Ons gaan God meet aan dit wat in Sy skepping gebeur. God word aan die moontlikhede van Sy eie skepping onderwerp. Die HERE word ten diepste nie erken as die God wat ver bo Sy eie skepping uitgaan en baie meer as Sy skepping is.

As ons oor die verhouding van Vader en Seun praat  stamel ons omdat die HERE so groot is dat ons dit nie onder woorde kan bring nie. Ons glo dat Vader en Seun nooit sonder mekaar bestaan het nie. Ons bely dan ook van die Seun: “Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy ‘n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom”. Ons woorde skiet hier kort omdat dit so ver bo ons verstand uitgaan. Nogtans glo ons dat Vader en Seun altwee van ewigheid is omdat die HERE dit self so in Sy Woord sê. Ek kom daarop volgende keer terug.

Hoe belangrik is dit om steeds weer in die kerk te erken dat nie ons verstand nie maar God met Sy eie Woord die norm is. Ook as ek dit self nie kan begryp nie gee ek my aan die HERE oor wat soveel groter as my, as Sy hele skepping is. Dan is my gedagte, my verstand so klein en nietig.

Hier vind ons nou een van die groot oorsake van die groot ellende in die kerk van vandag. Die mens se verstand of vandag dikwels sy gevoel bepaal wat mense glo. Dit is die rede dat ook in allerhande vorme van moderne en postmoderne teologie die Godheid van ons Verlosser ontken word. Die historiese Jesus is volgens baie  verseker nie God nie. Ons sien ook by die behandeling van allerhande etiese sake dat die mens se verstand en/of gevoel op die troon sit. Die norm wat die HERE in Sy Woord stel is volgens ons gevoel of verstand nie meer reg of dit pas nie meer by ons tyd nie. As jy dan tog nog die Bybel wil gebruik en jou Christen wil noem het jy nodig om te sê dat die Bybel nie God se Woord is nie maar die woord van mense oor God. Dit is dan die boek wat vol van mense se gevoelens en ervaring oor God is. Ons het dan vandag ons eie gedagtes en gevoelens.

Laat ons die HERE bid dat Hy ons sterk maak om ook vandag hierdie vorm van rasionalisme, van die mens op die troon te weerstaan. Laat ons daarop let wat die Gees in God se eie Woord van die God-wees van die Seun sê. Ek maak daarmee hierdie keer net ‘n begin deur op een gedeelte te wys.

 

 

Johannes 1:1-3

 

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom  het nie een ding ontstaan wat ontstaan het.”

Niemand kan ontken dat met die Woord die Here Jesus bedoel is nie. Want ons lees in vers 14: “En die Word het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.”

Staan hier nou dat Jesus God se woordvoerder was en Hy by die skepping die meesterwerker was? Wie mooi lees sien dat ‘n mens dan  aan die Here Jesus se heerlikheid verseker te kort doen.

Hy is nie net God se woordvoerder nie. Hy is God. Die Woord is God. ‘n Mens kan dit ook nie op grond van die Griekse teks ontken nie. Die verdere getuienis van die Skrif  daaroor is so duidelik dat ook dit wys dat in Joh 1:1-3 gesê word dat Jesus Christus werklik God is.

 

Christus presenteer Hom as God

 

Die Here Jesus het Homself  duidelik as God gepresenteer. Ek noem een voorbeeld. Ons vind dit in Johannes 10. Die Here Jesus het Homself as die Goeie Herder aangewys. Hy het ook gesê dat Hy die skape wat Hom volg die ewige lewe gee. Hoekom kan die Here Jesus dit sê? Omdat die Vader Sy uitverkore kinders aan Christus gegee het. Hy het hulle aan Hom gegee om hulle uit die sondedood te red. Dan sê die Here Jesus: “Ek en die Vader is een.” Vs 30. Die Joodse leiers verstaan dat die Here Jesus hier sê dat Hy self God is. Dat Hy as die Seun saam met die Vader God is. Let ook op die verse wat op Jesus se uitspraak volg: “Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig. Esus antwoord hulle Baie goeie dinge het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van die werke stenig julle My? Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons  U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak.” Vs 31-33.

 

Christus  aanroep

 

Christus is waarlik God en daarom lees ons dan ook aan die einde van die artikel dat ons Hom aanroep.

Die aanroep van die ewige God beteken dat mense in die openbaar Hom as die enigste God om Sy hulp en liefde vra. Jy gaan in jou gebed tot Hom omdat jy met jou hele lewe aan Hom vashou. Jou verwagting is op Hom. Dit maak dit duidelik dat ons ons in ons gebed ook tot Jesus Christus mag wend, want Hy is volledig God. Ons sien dit in die Nuwe Testament ook gebeur. Dink aan Stefanus wat  teenoor die Jode in Jerusalem van Christus getuig. Ook wanneer hulle hom met die dood dreig. Sy getuienis loop dan op volgende uit: “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.”  Toe is die Jode so kwaad vir Stefanus dat hulle hom doodmaak. En dan lees ons in vers 59,60: “En hulle het Stefanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: “Here Jesus, ontvang my gees! En hy het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met die woorde het hy ontslaap.”

Ons sien hier ‘n duidelik voorbeeld van ‘n gebed tot die Here Jesus wat God die Seun is. Hy word hier ook as God erken, want van Hom word gevra om sekere mense hulle sondes nie toe te reken nie. Die enigste wat dit kan en mag doen is God! Paulus kan later selfs aan die begin van sy eerste brief aan die Korintiërs skryf: “die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as ons Here”. 1 Kor 1:2

 

Christus  aanbid

 

As ons van aanbidding praat, gaan dit altyd om God en nie om ‘n skepsel nie. Aanbidding is die voorreg van God alleen. Die Here Jesus maak dit baie duidelik as Hy in die woestyn deur die duiwel versoek word. Na die laaste versoeking sê die Here Jesus dan: “Gaan weg, Satan! Want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Matt 4:10.  ‘n Mens sien hier hoedat – net soos aan die einde van  artikel 10 - die woorde aanbid en dien saam genoem word.

Ek kan dit nie nalaat om ook nog op die volgende vers van Matt 4 te wys nie. As die Here Jesus gesê het dat alleen God aanbid en gedien mag word, lees ons in vers 11: “Daarna het die duiwel om laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien”  Hier sien ons ‘n duidelike bewys dat Jesus God is, want die engele dien Hom!

Alleen God mag aanbid word. Die Here Jesus Christus laat Homself aanbid en dit wys weer dat Hy God is. Wat beteken dit nou dat ons die Here Jesus Christus aanbid? Dit beteken dat ons Hom met ons woorde en in ons gebede loof en prys as die enigste God. Dat ons Hom met verwondering in ons hart die lof bring vir die magtige werk wat Hy vir ons gedoen het en nog doen. Dat ons nie in onsself roem nie, maar Sy Naam lofsing.  Sien o.a. Openb 5:12-14. Die Vader en die Seun, die Drie-enige God, ontvang in heerlike lofprysing die aanbidding wat Hy alleen werd is.

 

Christus  dien

 

Jesus Christus is God. Ons is mense. Dit beteken dat ons in Sy diens staan. Dit beteken dat ons geroep word om Christus te dien. Om Hom as ons Here en Koning te erken. Dan is jou en my taak nie alleen om in ons lewe Christus te dien nie, maar ook ander mense tot die diens aan Christus te roep. Dit is die Here Jesus wat ons oproep om juis ook aan ander mense die heerlike evangelie te verkondig met die doel dat ons en hulle saam die Drie-enige God dien en Hom so dien soos Christus ons dit geleer het. Die Here Jesus gee daardie bevel vir Sy kerk in Matt 28: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Vs 19. Die dien van Jesus Christus beteken dat jy Hom as jou God en Verlosser erken, dat jy in Hom glo. Dit beteken dat jy in jou hele lewe diensbaar aan Hom wil wees en steeds weer vra wat Sy wil is. Jy wil jou voeg by Sy wil en wil  jou lewe wy aan die bewaar en uitbreiding van Sy kerk en Koninkryk.