Nederlandse geloofsbelydenis artikel 9 NGB God is die Drie-enige God volgens die Skrifte

13-12-2016 06:53

 

 

God is die Drie-enige God volgens die Skrifte.

Artikel 9 - Nederlandse Geloofsbelydenis

 

Die enigste artikel  wat die Skrifbewys gee

 

Artikel 9 van die NGB gee vir ons aan hoe belangrik dit is om te bely dat die HERE die Drie-enige is. Dit is naamlik  die enigste artikel in die Belydenisskrifte waar die artikel self die Skrifbewyse wil gee.  Ons het in artikel 8 bely dat die HERE die Drie-enige God is. ‘n Aparte artikel volg om dit vanuit die Bybel te bewys.

Steeds weer het mense die leer van die Drie-eenheid aangeval en gesê dat dit nie in ooreenstemming met die Bybel is nie. ‘n Voorbeeld daarvan is die Jehova’s Getuies. Hulle skryf in ‘n boekie wat  juis oor die leer van die Drie-eenheid gaan o.a: “ ’n Mens kan nie ’n kompromis aangaan wat God se waarhede betref nie. Gevolglik moet ‘n mens die Drie-eenheidsleer verwerp om God op sy voorwaardes te aanbid. Die leerstelling is strydig met wat die profete, Jesus, die apostels en die vroeë Christene geglo en geleer het. Dit is strydig met wat God in sy geinspireerde Woord  van homself sê. Hy gee dus hierdie raad: “Erken dat ek alleen God is en dat daar niemand anders soos ek is nie.” (Jes 46:9)”

Hoe belangrik is dit nou om self  raak te sien wat die HERE in die Bybel sê.

 

Die eerste hoofstukke van die Bybel

 

 

Genesis 1:26-28  God neem op sesde dag vir die tweede keer die woord. Al die plante en diere, die hele natuurwêreld is geskep. Die heerlikheid daarvan is groter as dit wat ons vandag kan sien. Meer plante en diere as ons vandag ken. Nog geen enkele diersoort of plantsoort het uitgesterf nie.

Volgens God se plan ontbreek nog een skepsel. Die enigste skepsel wat na Sy beeld geskep moet word. Die HERE gebruik ‘n opvallende formulering by die skep van die mens: “Laat Ons  mense maak na ons beeld, na ons  gelykenis”.

Die woord ons wys ons in die eerste hoofstuk van die Bybel dat God uit meer persone bestaan. God is een en tog kan Hy van Ons praat.  Die Ons is in God ‘n werklikheid. Ander voorbeelde in die Ou Testament van die Ons wat op meer persone in God wys  is:  Gen 3:22; 11:7; Jes 6:8.

 

Genesis 1-3 en die leer van die Drieeenheid.

 

Die woord ons in Gen 1:26 word op baie verskillende maniere uitgelê. Ek noem die 4 belangrikstes wat anders is as die verklaring wat hierbo gegee is.

a.    God sou hier met ander gode beraadslaag. Dit is duidelik dat dit volledig met die hele inhoud van die Bybel stry. Ons hoor steeds weer die boodskap dat net die HERE God is en niemand meer nie.

b.    God sou hier met  die engele praat wat die hemelse hofhouding is. Ook hierteen bestaan  ‘n beslissende beswaar. Die engele is skepsels. Hulle is nie mede-skeppers nie.

c.    God sou hier in gesprek met die aarde tree. Hy sou saam met die aarde vir die skepping van die mens sorg.  Ons moet ook hier sê dat dit onmoontlik is. Die aarde self het geen enkele krag om iets te skep nie. Die skepping is die werk van God alleen.

d.    Die woord Ons sou ‘n sogenoemde  majesteitsmeervoud wees.  Die woord ons is dan net ‘n afwisseling van die woord  ek en sê niks oor die werklikheid  van meer persone nie.  Hierteen bestaan ‘n baie belangrike taalkundige beswaar.  Die bewyse vir hierdie uitleg is verwysings na Gen 3:22; 11:7 en Jes 6:9.  Die opvallende is dat  die afwisseling van  ek  - ons  net hier gevind word as dit oor  die HERE gaan.  Ons lees nêrens in die Bybel of enige ander Hebreeuse teks van die gebruik van die majesteitsmeervoud nie.  Dit was in die taalgebruik onbekend.  Dan is dit amper onmoontlik dat dit  in hierdie vier tekste om ‘n majesteitsmeervoud gaan. As ‘n mens na die hele Skrif kyk en sien hoe die HERE Hom as die Drie-enige God  openbaar  bestaan nie ‘n beter verklaring as om te sê dat  Gen 1:26 na die werklikheid  van meerdere persone in God wys nie.

 

Die afwisseling tussen God en Ons wys daarop dat dit vanuit die staanspoor duidelik was dat God uit meer persone bestaan.

 

Enkele gedeeltes in die Nuwe Testament

 

Die Bybel is vol van bewyse dat God een is en uit meer persone bestaan. Ek noem nou nog enkele addisonele plekke in die Nuwe Testament as dit wat in artikel 9 genoem word.

1.        Johannes 10:30-33. Die Here Jesus doen hier die bekende uitspraak: “Ek en die Vader is een.” Dit gaan hier nie net daaroor dat  die Vader en die Here Jesus dieselfde wil nie. Dit gaan hier regtig om die eenheid van  die Vader en die Seun. Dit blyk ook in die reaksie van die Jode op hierdie woorde. Hulle verstaan dat Jesus Homself hier God noem. Ons lees in vers 33 dat die Jode dan sê: “Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak.”

2.        Johannes 12:41.  In vers 40 haal Johannes Jesaja 6:10 aan. Dit is ‘n deel van die visioen waarin Jesaja tot profeet geroep word. Jesaja sien dan God se besondere heerlikheid en hoe engele, serafs, hierdie heerlikheid van God besing. Jes 6: 1-4. Nou sê Johannes van die Here Jesus dat dit Sy heerlikheid was. Hy wys hier duidelik dat  Christus die HERE van Jes 6:1-4 is!

3.    Dit gaan by die raaksien van God as die Drie-enige verseker nie alleen om sekere tekste nie. Ook as ons na Christus se lewe kyk en sien wat Hy doen, sien ons steeds weer raak dat Hy God is! Juis as jy sien dat Christus God is en weet dat daar net een God is, leer ‘n mens bely dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees die een God is.

Ek wil nou net nog een voorbeeld daarvan gee dat die Here Jesus in dit wat Hy doen wys dat Hy God is. Ek wil nou aandag vir Markus 2:1-12 vra.

Dit is die geskiedenis van die verlamde man wat deur sy vriende deur die dak voor Jesus gebring word. As ons mooi na hierdie geskiedenis kyk, sien ons raak dat dit hier nie in die eerste plek om die genesing van hierdie man gaan nie. Wat doen Jesus as hierdie man daar voor Hom lê? Hy vergeef hom sy sondes! Dit is wat hierdie man die meeste nodig het.

As die skrifgeleerdes dit hoor, is hulle kwaad en dink in hulle harte dat Jesus nou met godslastering besig is. God alleen kan tog vergewe en niemand anders nie! Jesus stem daarmee in! Hy kan vergewe omdat Hy God is. Hy maak ook duidelik dat Hy God is deur vir hulle te kan sê wat hulle in hul harte  dink. Hy bevestig dat Hy kan en mag vergewe en dus God is, deur die verlamde man nog boonop te genees! Hierdie hele geskiedenis is een groot bewys, van Jesus se kant, dat Hy God is.