Artikel 3 Nederlandse Geloofsbelydenis: Die Bybel is God se Woord

08-11-2016 06:50

 

 

Die Bybel is God se Woord: NGB Artikel 3 

 

Die Bybel nie ‘n menslike boek nie

 

In ons tyd is daar baie mense wat sê dat hulle die Bybel as God se Woord aanvaar maar tog nie alles glo wat ons in die Bybel lees nie. Hulle  glo o.a. nie dat die slang in die paradys gepraat het nie, dat Adam en Eva die eerste mense was, die esel van Bileam gepraat het, Jona drie dae in die vis was nie. Mense meen dat die Bybel tog foute bevat omdat die Gees van mense gebruik gemaak het om die Bybel te laat skryf.  Mense maak foute, die mense wat die Bybel geskryf het was kinders van hulle tyd dus het hulle ook foute gemaak en dinge opgeskryf wat hulle toe in hulle kultuur geglo het wat ons nou nie meer kan glo nie. Ons lees in 2 Petrus 1:21 dat God mense by die skryf van die Bybel gebruik het. Beteken dit dat die Bybel daardeur minder betroubaar geword het?  Dit is belangrik om 2 Petrus 1:21 in verband met die vorige vers lees. Ons lees in hierdie twee verse: “terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” In vers 20 word gesê dat 'n mens die Skrif  nie  menslik mag uitlê nie. Die rede daarvoor vind ons in vers 21.  Vers 21 begin dan ook met die woord  want.   Ons lees in die vervolg dat die oorsprong, die bron van die Bybel nie in mense lê nie. Die Bybel  is  nie deur 'n mens voortgebring nie. Geen mens is daartoe  in staat nie.

 

Die Heilige Gees is die skrywer van die Bybel

 

Die Heilige Gees is die eintlike skrywer van die Bybel. Ons lees dit steeds weer in die Bybel.  Ook as in die Nuwe Testament 'n  gedeelte  uit  die  Ou-Testament aangehaal word.  Ek gee 'n enkele voorbeeld. Wanneer die skrywer van die brief aan die  Hebreërs  'n  deel  van  Psalm  95 aanhaal, skryf hy in hoofstuk 3:7:  "Daarom,  soos die Heilige Gees spreek".  In dieselfde brief word in hoofstuk 10 'n gedeelte van Jeremia 31 aangehaal en dan lees ons in vers 15,16:  "En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis;  want nadat Hy tevore gesê  het..."  Die  Here Jesus self doen dit op dieselfde manier. Wanneer Hy 'n gedeelte van Psalm 110 aanhaal, sê Hy in Markus 12:  "Want Dawid self het deur die Heilige Gees gesê". (vers 36). Die Bybel is die Woord van die Gees. Nogtans het die Gees mense gebruik. Wat beteken dit?

 

Die Heilige Gees het mense gebruik

 

Dit  beteken dat die Gees mense so gebruik dat hulle heeltemal in diens van die Gees staan.  Sonder die Gees kan  hulle geen letter  in  die Bybel skryf nie.  Die Bybelskrywers moes deur die Gees gedryf word.  Die woord wat in 2 Petrus 1:21 vir gedryf gebruik word is 'n woord wat toe in die Grieks in die skeepvaart gebruik is. Hierdie woord wys dat die wind  in die seile kom en op daardie manier die skip in die regte rigting begin dryf. Mense kan net Bybelskrywers wees as hulle die wind van die Gees in die seile kry. Dan is dit die Gees wat van hulle talente, van hulle skryfstyl gebruik maak.  Elke Bybelskrywer bly sy eie karakter en styl behou. Die een se taal is meer die taal wat in hoër kringe gebruik word (o.a. Jesaja) en die ander gebruik meer die taal van die gewone volk. (o.a. Amos). Bybelskrywers maak ook gebruik van bepaalde boeke wat in hulle tyd al bestaan, (kyk o.a: Num 12:4; Jos 10:13).  Lukas doen self navorsing na dit wat Jesus gedoen en gesê het. (kyk Lukas 1: 1-4). Die apostel  Johannes stel uit die oorvloed van dinge wat Jesus gesê en gedoen die evangelie saam wat hy geskryf het. (Joh 20: 30,31).  'n Bybelskrywer bly 'n mens. Nogtans gebeur daar, op die oomblik dat  daardie  persoon  as Bybelskrywer werk, iets besonders. Dan dryf die Gees hom.  Dan heilig die Heilige Gees hierdie mens, dan heilig Hy sy menslike moontlikhede. Dan maak die Gees dit onmoontlik dat daardie mense nog sy eie gedagtes pleks van God se woorde  neerskryf. Dan oorweldig die Gees daardie mens. 'n Voorbeeld daarvan is wat ons in Jeremia 20 lees. Jeremia moes steeds weer God se oordeel verkondig.  Dit is vir Jeremia  nie maklik nie. Want die mense begin Jeremia daarom vyandig te benader. Jeremia verset homself daarteen wanneer hy weer God se oordeel moet verkondig. Juis dan word duidelik dat die Gees, dat die HERE, meer as 'n mens is. Jeremia sê dan in vers 7 en 9:  "HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin;  ek was 'n belagging die hele dag, almal saam spot met my.  .....  En as ek sê:  Ek sal aan Hom nie dink nie en in Sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my  hart soos 'n brandende vuur,  opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie." Jeremia moet God se Woord praat. Hy kan nie anders nie. Die HERE  het hom uitgekies om Sy Woord te verkondig en dit wat Jeremia  sê, moet   in die Bybel geskryf word.  Omdat God hom daartoe uitgekies het, word hy een van die heilige mense wat van God gespreek het. Heilig beteken in 2 Petrus 1:21 dat die HERE hulle tot hierdie  taak geroep en afgesonder het. Hy het die Bybelskrywers ook so geheilig dat hulle God se onfeilbare Woord  opskryf. Die Heilige Gees werk dan  selfs so in mense dat hulle ook neerskryf wat bo hul menslike moontlikhede uitgaan. Jesaja  kan  die tyd van die ballingskap so beskryf asof hy dit  self  meegemaak  het terwyl hy al voor die ballingskap gesterf het. Johannes sien in die boek Openbaring dinge wat in  die  toekoms  gaan gebeur.  Dit kan alleen omdat die Heilige Gees die Bybelskrywers  gebruik. Dit is selfs so dat die Heilige Gees vyande van God en Sy volk so oorweldig dat hulle teen wil en dank God se woorde uitspreek. ‘n Voorbeeld daarvan is Bileam. Hy word geroep om die volk Israel te vervloek. As hy ‘n berg uitklim om van die berg vir Israel te vervloek, kom woorde van seën en profesie uit sy mond. Ons lees die verhaal van Bileam in Numeri 22-25. As die koning wat vir hom laat roep het hom verwyte maak, sê Bileam: “Moet ek dan nie sorgvuldig alles spreek wat die HERE in my mond lê nie?” (Num 23:12) ‘n Rukkie later moet hy in diens van die HERE sê: “Kyk, ek  het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie.” (23:20). Die Bybel is die onfeilbare Woord van God, die swaard van die Gees. (Ef 6:17)