Artikel 2 Nederlandse Geloofsbelydenis Die HERE openbaar Homself

31-10-2016 16:45
 
Die Here openbaar Homself : NGB Artikel 2   ds Rob Visser

 

Ons het in artikel 1 bely dat God bestaan. Dit is nié so dat die HERE net vir ons gewys het dat Hy bestaan  nie. Hy is nie die God wat net op ‘n afstand bly nie. Hy is die God van die verbond wat die vertroulike omgang van Sy kinders met Hom as hulle Vader soek. Daarom wys Hy vir ons wie Hy is. Dit doen Hy op twee maniere.

 

Psalm 19

 

As ‘n mens na die opbou van artikel 2 kyk, sien jy dat die opbou van hierdie artikel aan Psalm 19 ontleen is. Die Heilige Gees wys in die eerste gedeelte van hierdie Psalm dat die HERE Sy mag en majesteit in die natuur openbaar. Ons lees in vers 2: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” Die skepping is dus ‘n bron van kennis. Die skepping wys die heerlikheid van die Skepper. Nogtans is die skepping as bron van kennis nie genoeg nie. Ek kom nog daarop terug. Die ander bron van kennis wat ons baie nodig het is die Bybel. Daarop wys Psalm 19 in die tweede gedeelte wat by vers 8 begin: “Die wet van die HERE is volmaak; dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis; dit gee wysheid aan die eenvoudige.”


 

De HERE openbaar Homself nie net in die Bybel nie. Hy openbaar Hom ook in Sy dade.

Dit gebeur op drie maniere:

·        Die HERE wys Homself as die Skepper aan. As ‘n mens na die skepping kyk, behoort hy beïndruk te raak. Dan moet die gedagte opkom dat daar ‘n Skepper moet wees. Iemand wat méér as die skepping is en alles volgens ‘n pragtige plan gemaak het. In die skepping pas alles so goed bymekaar dat dit geen toeval kon wees nie.

·        Die Skepper wys Homself ook daarin dat Hy nog elke dag vir Sy skepping sorg. Dit noem artikel 2 die onderhouding  van die wêreld. Die skepping praat in al sy heerlikheid en majesteit van God, van die Skepper. Selfs so dat ons in Psalm 19 lees: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die nag kondig vir die ander kennis aan.” (vers 3,4) Hiervan lees ons ook in Romeine 1:20: “Want Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.”

Selfs hierdie openbaring van God in Sy skepping word nog vanweë die sondeval deur mense verdraai. Paulus skryf in Rom 1:18 dat die mens “die waarheid  in ongeregtigheid onderdruk”.

·        Die HERE wys Homself ook in die geskiedenis. ‘n Voorbeeld daarvan is hoe Hy die kerk steeds weer bewaar. Die kerk van Christus bly bestaan, al word hy ook vervolg. Hoe het  konings en owerhede nie probeer om die troue kerk te vernietig, maar dan beheer die HERE die geskiedenis só dat die vyande van Christus se kerk hulle doel nie bereik nie.

 

Is God se openbaring in Sy dade vir die mens genoeg?

 

As ons weer terugdink aan Romeine 1 is dit duidelik dat God se openbaring vir die mens nie genoeg is om op God se pad te stap en om regtig as die HERE se verloste kind te lewe nie. Die oorsaak daarvan lê in ons. Die oorsaak is ons sondige, harde hart wat God se openbaring in Sy dade in “ongeregtigheid onderdruk”.    ‘n Mens verstaan dalk nog iets van hierdie openbaring van God in Sy werke, maar a.g.v sy sondige hart  dring net ‘n baie klein gedeelte van hierdie openbaring in sy hart deur. Daarvan bely ons in die Dordtse Leerreëls III/IV, 4: “Na die sondeval het daar in die mens tog nog ‘n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy ‘n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in 'n sekere mate 'n strewe na deug en uiterlike tug. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot saligmakende kennis van God te kom en hom te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer verduister hy dit heeltemal op verskillende maniere en bedek dit in ongeregtigheid.  Omdat hy dit doen, is daar vir hom geen verontskuldiging voor God nie.”

 

Die Bybel noodsaaklik

 

Dit is duidelik dat dit vir ‘n mens en vir die menslike samelewing onmoontlik is om op die lig van die natuur, om op God se openbaring in Sy dade, ‘n goeie lewe en samelewing te bou. Dit was selfs vir Adam en Eva voor die sondeval nie moontlik nie. Selfs in die paradys moes te same met God se openbaring in Sy dade, ook Sy openbaring in en deur Sy Woord kom. Dieselfde geld vir die Here Jesus as mens. Ook Hy moes in die kennis van God groei deur Sy Woord te hoor! Kyk  Jes 50: 4,5; Luk 2:52; Joh 5:30; 8:26-28. Calvyn het die Bybel die bril genoem wat ‘n mens nodig het om die werklikheid te sien, om die HERE werklik te leer ken. Wie nie die bril van God se Woord opsit nie, sien nie vir Christus nie. Dan sien ‘n mens nie Christus as die Verlosser nie en ken God nie as sy Vader nie. Sonder God se Woord  kan niemand  God se hart ken wat Hy in Christus vir ons gewys het. Ons kan nie sonder die Bybel nie.

 

Hoekom kan ongelowiges dan tog dinge wat goed is doen?

 

Ook mense wat nie in die HERE glo nie, veroordeel steel en moord. Hoe is dit moontlik?  Omdat die HERE die Skepper is en die mens volgens Sy plan gemaak het, moet die mens steeds weer toegee dat die HERE se wet by die skepping en die mens pas. As mense steel en doodslaan en as dit in ‘n samelewing toegelaat  word, moet die mens na ‘n ruk erken, dat dit op chaos en op groot ellende uitloop. Dan wys die ellendige resultate dat iets moet verander en dat mense moet terugkeer na die dinge wat die HERE in Sy wet gesê het. Die sondige mens het geen betroubare natuurwet in hom nie. Nogtans doen die ongelowige saam met God se kinders dinge wat volgens die HERE se wil is omdat God se openbaring in Sy werke deur die mens nie volledig teengestaan kan word nie. Daarvoor is hierdie sigbare en voelbare openbaring van die HERE veels te sterk.