Artikel 11 Nederlandse Geloofsbelydenis: Die Heilige Gees is God

03-01-2017 12:04

 

 

Die Heilige Gees is God (1)

Artikel 11 - Nederlandse Geloofsbelydenis

 

Dit gaan in artikel 11 van die Nederlandse Geloofsbelydenis veral daarom dat die Heilige Gees werklik God is. Hoe belangrik is dit vir jou en my lewe om te weet en te bely dat die Heilige Gees waarlik God is.

 

Die Gees is een van die Goddelike Persone

 

Mense dink dikwels dat die Gees die krag is wat van God uitgaan. Hulle dink dan nie aan die Gees as een van die Goddelike Persone nie. Hoe meer jy met aandag die Bybel lees hoe meer kom jy ook onder die indruk van die Gees as God en as ’n Persoon. Ek noem nou enkele voorbeelde vanuit God se Woord waar die HERE ons wys dat die Gees ‘n Persoon is en dat Hy werklik God is.

 

Die Gees is God, want Hy is oral. Nêrens in God se skepping is ‘n plek waar die Gees nie is nie: “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug vir u aangesig? Klim ek na die hmel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.” Ps 139:7-10. Let daarop dat eers gevra word waar die digter van hierdie Psalm sou gaan waar die Gees nie is nie. Dan is die antwoord dat dit nêrens sal wees nie en dat die Gees ook baie duidelik met die HERE, met God, geïdentifiseer word. Hy is God en is oral.

Nog meer: Die enigste wat in ‘n tempel woon is God. ‘n Tempel is nie ‘n woning vir ‘n mens of ‘n dier nie maar vir God. Paulus toon in 1 Kor 6 baie duidelik aan dat die Gees God is as Hy daar in vers 19,20 skryf : “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” Ons lees hier dat die Gees wat in die gelowiges woon van God kom. Hy is God se Gees. Nogtans is Hy nie ‘n krag nie, maar ‘n Persoon. Ook dit leer die HERE ons baie duidelik in Sy Woord. Ek noem weer enkele voorbeelde:

 

Dit is vir ons almal duidelik dat die Here Jesus ‘n Persoon is. Hy het Hom so op hierdie aarde openbaar. Mense het die Seun - wat mens geword het op aarde - as Persoon gesien. Hy het aan die einde van Sy lewe op aarde gekom. Nou maak Hy vir Sy leerlinge duidelik dat Hy gaan sterf en dat ná Sy opstanding ook die oomblik sal aanbreek dat Hy van die aarde na die hemel gaan. Hy laat Sy kerk dan nie alleen agter nie. Christus wys dan daarop dat van die hemel ‘n ander Persoon na die aarde sal kom om Sy plek in te neem. Ons lees dit in Joh 14:16,17:

“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster  gee om by julle te bly in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”  ‘n Trooster is nie ‘n krag nie! Van Hom gaan juis as Persoon die krag uit waarmee Hy help, lei en troos.

 

Ons lees in God se Woord ook dat ons die Gees kan bedroef  (Ef 4:30), dat die Gees bid (Rom 8:26-28), dat die Gees ‘n wil het (1 Kor 12:11). Dit is almal dinge wat daarop wys dat Heilige Gees geen krag is nie maar ‘n Persoon. Hy is God en Hy is ‘n Persoon en dit wys vir ons dat Hy een van die drie Goddelike Persone in die een God is.

 

Die Gees wat van die Vader uitgaan

 

Ons bely dat die Gees van die Vader en die Seun uitgaan. Die Gees is die Gees van die Vader. Ons lees dit baie duidelik as die Here Jesus vir Sy leerlinge in Matt 10 o.a die volgende sê: “En wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” (vers 19,20)

Wat beteken dit nou vir ons lewe dat die Gees van die Vader in God se kinders woon? Dit beteken dat die Gees jou steeds weer op die Vader en Sy werk wil wys. Jou steeds weer aan die Vader herinner. Hy wys jou deur die Bybel en herinner jou wat jy vanuit God se Woord geleer het wie die Vader is en wat Hy doen.

Wanneer jy byvoorbeeld alles rondom jou so swaar en donker sien en jy nie meer raaksien hoekom jy nog op aarde leef nie. Dan is dit die Gees wat jou daaraan herinner dat die Vader jou as Sy kind in die wêreld laat kom het. Dat Hy die hele skepping gemaak het. Dat Hy telkens weer deur Sy Gees daarvoor sorg dat nuwe lewe op aarde ontstaan. Steeds weer kom daar ná die tyd van dorheid die pragtige nuwe lewe wat weer die aarde verander. Dit is die Gees van Vader wat jou steeds weer by die hand wil neem en jou as dieVader se kind wil lei. Wat dit vir jou duidelik maak dat die Vader - selfs as alles so donker voel en as jy so eensaam voel - by jou bly. Dit is die Gees wat jou dan daaraan herinner dat jou lewe in die Vader se oë werklik waarde het. Al sou jou aardse vader heeltemal ander dinge sê. Indien jy met al jou probleme na die Vader in die hemel gaan. Wanneer jy voel dat jy in jou lewe so ver van die HERE geraak het en daar groot sondes in jou lewe is, wys die Gees as die Gees van die Vader jou daarop wat ons in die Doopsformulier lees: “En as ons soms uit swakheid in sondes val, moet ons nie aan die genade van God twyfel of in die sondes bly lê nie: die doop is immers ‘n seël en volkome betroubare getuienis dat ons ‘n ewige verbond met God het.” Dan wys die Gees jou onfeilbaar daarop dat die Vader jou roep om uit die modder van die sonde op te staan en na Hom te gaan. Hoe groot jou sondes ookal is, nogtans is die Vader in die hemel so bly wanneer  jy na Hom terugkeer en jy Sy belofte weer met diepe belydenis van jou skuld vasgryp. As jy so uit die dood opstaan, dan gee die Vader vir jou Sy liefde en daarmee die lewe.

Hoe dikwels roep die Gees ‘n mens deur Sy Woord  tot die Vader terug. Hoe dikwels klop die Gees met die Woord aan ons hart om ons weer na Vader terug te bring. Dan kom hierdie woorde so indringend na ons: Openbaring 2,3: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.” Dan sien ons ook raak dat die Gees, die Gees van Christus is.

 

Die Heilige Gees is God (2)

 

Die Gees gaan van die Vader en die Seun uit! Ons bely dat die Heilige Gees die derde Persoon in die Drieëenheid is. As ons dit bely, sê ons nié daarmee dat die Gees minder as die Vader en die Seun is nie. As ons bely dat die Gees derde in die orde is, wys dit daarop dat die Gees steeds weer op die Vader en die Seun wys. Hy wys steeds weer dat die Vader die Skepper is wat weer Sy skepping in stand hou en dat die Seun die Verlosser is. Die Gees is ook werklik die Gees van Christus. Die Gees wat Christus oor Sy kerk uitgestort het. Ons lees dit baie duidelik in Hand 2 :32,33: “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” Dit is dus die Verlosser wat met Sy werk van verlossing die Gees vir Sy kerk verdien het en die Gees ook oorvloedig oor Sy kerk uitgiet. Die Gees word dan ook die Gees van Christus genoem. Kyk Gal 4:6. Ek noem nou een ding wat Gees as die Gees van Christus doen. Dit gaan hier oor wat die Here Jesus in Joh 16:8-11 sê. Die Here Jesus het vir sy leerlinge verduidelik dat dit vir hulle goed sal wees as Hy van die aarde sal weg gaan en die Gees in Sy plek sal kom. Daarna sê Christus van die Heilige Gees: “en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel; van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wëreld geoordeel is.” Die Gees sal, nadat die Here Jesus na die hemel gegaan het, die bewyse op tafel lê wat die oortuigende bewyse is dat die wêreld in sonde leef. Die Gees het dit o.a. gedoen toe Hy Petrus op die Pinksterdag laat preek het en so die Jode aangewys het dat hulle die Christus gedood het.  Hulle het die Verlosser wat God gestuur het, as die grootste misdadiger behandel. Die Gees sorg as die Gees van Christus daarvoor dat die hele Bybel in die eerste eeu na Christus klaar geskryf  word. Ons vind juis daarin die bewyse dat Jesus die Christus is. Die Gees wys aan dat elkeen wat nie met Christus leef nie, in sonde leef. Die woord “oortuig” wat ons in vers 8 lees, beteken nie dat die wêreld tot geloof kom nie. Die woord wys daarop dat die hele wêreld in die ongelyk gestel word. Die wêreld word deur die Gees van Christus in die staat van beskuldiging gestel. Die Gees neem elke verontskuldiging weg. Die Gees het die onweerlegbare bewyse dat Jesus die Christus is op tafel gelê.

 

Die tweede wat die Gees as die Gees van Christus doen, is dat Hy onweerlegbaar aanwys wat geregtigheid is. Christus is die Regverdige, die totaal sondelose. Sy hemelvaart is daarvan die bewys. As Jesus die groot sondaar en godslasteraar was, sou die Vader Hom nooit in die hemel met liefde ontvang het nie. Dan was daar vir Hom nie die ereplek in die hemel nie. Dan sou hy ‘n plek in die hel gekry het. Christus gaan na die hemel, maar die Gees sal deur die Woord  en die verkondiging van die Woord steeds weer op Hom as die regverdige wys wat vir onregverdiges hulle straf gedra het.

 

Die Gees sal ook die wêreld onweerlegbaar op die oordeel wys. Dit word duidelik in die oordeel wat oor die duiwel as die owerste van die wêreld gekom het. Die duiwel kan nie meer hele volke en hele dele van die aarde van Christus en die lewe met Hom weghou nie. Kyk o.a. Matt 28:19,20; Openb 20:3.  Die Here Jesus het al vroeër in die Johannesevangelie  daarop gewys dat Sy lewe en werk die duiwel as owerste van die wêreld sal onttroon. Ons lees daarvan in Joh 12:31,32: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Jesus wys hier reeds daarop dat die duiwel vir altyd die hemel moet verlaat en sy greep op hele volke op hierdie aarde gaan kwyt raak. Dit gebeur as die Vader Christus na die hemel neem en Hom so verhoog. Dit is ‘n onweerlegbare bewys wat die apostels met hul eie oë gesien het en wat in die Bybel opgeskryf is. Die Gees bewys dit ook deurdat die evangelie oor die hele wêreld gaan en die duiwel nie by magte is om die gang van die evangelie oor die wêreld te keer nie. Waar die evangelie verkondig word,  werk die Gees die geloof in Christus in mense van allerlei volke. Hoe swaar hulle ookal vervolg word! So wys die Gees dat die owerste van die wêreld sy mag oor daardie mense verloor het. Die Gees oorwin die Satan met die evangelie van Christus! Die Gees bewys dat die wêreld skuldig staan en in die ewige oordeel oor die Satan sal deel as hulle nie tot Christus as die enigste Verlosser kom nie. Hoe belangrik is dit dat ons vol verwondering op die bewyse let wat die Gees gegee het. Dat ons van die wêreld wegvlug en ons toevlug altyd by Christus soek. Dan ken ons die Gees as die Trooster. Dan ken ons die Gees as ware God.